Gaan na inhoud

Sirkus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Russiese akrobate.
'n Groot sirkustent.
Narre tydens 'n optrede.

'n Sirkus is 'n reisende geselskap van narre, towenaars, akrobate, dieretemmers, opgeleide diere, ensovoorts.

Tydens die vertoning word mense vermaak met toertjies wat deur musiek begelei word. Die vertoning word gewoonlik in 'n groot ovaal tent aangebied met opgestapelde sitplekke langs die kante en die arena in die middel. Die moderne sirkus het in die laat 18de eeu in Engeland ontstaan, toe Philip Astley sy rykunsvertonings met akrobate, koorddansers en 'n nar aangevul het. Sedert die 1970's het die nuwe sirkus daarnaas ontwikkel, wat selde diere gebruik en sirkuskuns met teater verbind.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die woord sirkus is van die Latynse woord circus afgelei, wat "sirkel" of "kring" beteken.[1] Die Latynse woord is self aan die Griekse kirkos (κίρκος) ontleen, 'n variant van krikos (κρίκος), "sirkel, ring".[2] Volgens die vroeë Christelike skrywer Tertullianus het heidene geglo dat die godin Circe die eerste sirkusse ter ere van haar vader, die songod Helios, aangebied het.[3]

Die Romeinse sirkus was 'n arena sonder dak[4]:2 waar daar byvoorbeeld strydwarenne, ruitervertonings, nagespeelde veldslae en gevegte tussen gladiatore (swaardvegters) en wilde diere gehou en afgerigte diere vertoon is. Dit het gewoonlik met die dood van minstens een van die deelnemers geëindig. Die geboue was nie rond nie, maar reghoekig met halfronde ente, en vir nagespeelde seeslae is die arena onder water gesit. Die onderste sitplekke was vir mense van stand bespreek, en die sirkus was die enigste openbare skouspel waar mans en vroue nie van mekaar geskei is nie.[5]:390 Die sirkushistorikus George Speaight het gewaarsku dat dit 'n fout is om die Romeinse arenas, of die vermaak wat daar aangebied is, met die moderne sirkus gelyk te stel.[6]:11 Ander volg tog 'n ononderbroke lyn van die Romeinse sirkus deur die Hippodroom van Konstantinopel, wat tot in die 13de eeu gebruik is, en die narre, minstrele en troebadoers van die Middeleeue en die Renaissance tot by Astley in die laat 18de eeu.[7][8]

Die bekendste Romeinse sirkus was die Circus Maximus, in die vallei tussen die Palatynse en die Aventynse heuwel.[5]:390 Dit is in die koningstyd gebou[9] en het reeds in die 4e eeu v.C. bestaan. Aanvanklik was dit heeltemal van hout; ná verskeie herbouings was die laaste weergawe van klip, 400 m lank en 90 m breed, en kon dit 250 000 toeskouers huisves.[10] Ander belangrike sirkusse was die Circus Flaminius en die sirkus van Nero,[5]:390 asook die sirkus van Maxentius aan die Via Appia in Rome, wat in die 4e eeu n.C. gebou is, en waarvan die oorblyfsels vandag nog te sien is. Dié oorblyfsels het argeoloë gehelp om die Romeinse sirkus te rekonstrueer.

Hierdie vorm van georganiseerde vermaak het mettertyd die naam van die plek waar dit gehou is, oorgeneem, en daarom dui sirkus vandag nie op die plek waar die vermaak aangebied word nie, maar op die vermaak self en die geselskap of groep wat dit verskaf.

Met die opkoms van die Christelike Kerk en die verval van die Romeinse Ryk het die soort sirkus in onguns geraak en is gladiatorgevegte en strydwarenne mettertyd verbied. Die laaste Romeinse sirkus is in 549 in Rome gehou. In die Middeleeue was daar geen georganiseerde sirkus nie, maar wel groepies akrobate, jongleurs (minnesangers of musikante), koorddansers en dieretemmers wat van dorp tot dorp geswerf en by kermisse soos die Bartholomew Fair in Londen opgetree het.[4]:4-6

In die 18e eeu was Europa byna altyd in 'n staat van oorlog en perdedressuur of perdeafrigting is tot 'n fyn kuns ontwikkel. 'n Ruiter se lewe het dikwels in 'n veldslag afgehang van hoe goed sy perd afgerig was. Oud-soldate het dikwels hul brood verdien deur rykunsdemonstrasies te lewer. Een so 'n oud-soldaat, Philip Astley (1742-1814), was die vader van die moderne sirkus.[11][12][13] Hy is in Newcastle-under-Lyme in Engeland gebore, het as offisier in die kavallerie gedien en het op 4 April 1768 in Lambeth, Londen, sy eerste amfiteater vir rykunsvertonings geopen, wat baie gewild was.[14][6] Astley het nie die kunsrydery uitgevind nie, en hy was ook nie die eerste wat akrobate en narre aan die Engelse publiek voorgestel het nie, maar hy was die eerste wat al hierdie kunste in een vertoning saamgebring het.[15] Anders as sy mededingers het hy in 'n sirkel eerder as in 'n reguit lyn gery.[16] Hy het die speelruimte 'n sirkel en die gebou 'n amfiteater genoem; albei sou later as 'n sirkus bekend staan.[17]

In 1770 het hy rondreisende akrobate, koorddansers, jongleurs en 'n nar begin huur om die pouses tussen sy rykunsnommers te vul,[15] en in 1779 het Astley sy eerste teater spesiaal vir sirkusvoorstellings geopen. Astley se kryt, met 'n deursnee van 13 m, het die standaardgrootte geword wat sirkusse sedertdien gebruik.[15] Astley se nuwe vorm van vermaaklikheid was so gewild dat hy genooi is om voor die Franse koning op te tree.

Dit het in 1782 tot die bou van die eerste permanente sirkusgebou in Parys en in Frankryk, die Amphithéâtre Astley, gelei, waarna nog 18 permanente sirkusse in stede regoor Europa gevolg het.[18][19] In dieselfde jaar, op 4 November 1782, het Charles Dibdin, wat die woord "sirkus" vir dié soort vermaak geskep het,[20] saam met die ruiter Charles Hughes die Royal Circus in Londen geopen.[21] Tydens die Franse Revolusie het Astley sy Paryse sirkus aan sy Italiaanse vennoot, Antonio Franconi (1738-1836), verhuur,[22] en in 1793 is die Amphithéâtre Astley se naam na die Amphithéâtre Franconi verander.

Die Engelsman John Bill Ricketts, wat sy loopbaan by Hughes se Royal Circus begin het, het die moderne sirkus na die Verenigde State gebring. Die eerste sirkusgebou in die land is op 3 April 1793 in Philadelphia geopen, waar Ricketts die eerste volledige sirkusvertoning in Amerika aangebied het;[23][24] George Washington het later daardie seisoen 'n vertoning bygewoon.[25] Victor Pépin, 'n gebore New Yorker, was die eerste Amerikaner wat 'n groot sirkus in die VSA bedryf het.[26][27]

'n Ander soort sirkus, die hippodrome of perdedrama, was in die eerste helfte van die 19e eeu in Engeland en Frankryk baie gewild. Een van die gewildste hippodrome was Mazeppa, wat gegrond was op 'n gedig van lord Byron. In Engeland is Astley deur Andrew Ducrow opgevolg, wie se ruiterkunste die tradisies van die sirkus help vestig het; Hengler en Sanger het dié tradisies in hul beroemde vertonings voortgesit. Sirkusgeboue is oral in Engeland en Europa opgerig, soos die London Hippodrome, 'n kombinasie van sirkus, diereversameling en variëteitsteater waar leeus en olifante in die kryt verskyn het en vloede, aardbewings en vulkaanuitbarstings met groot realisme nageboots is.[5]:391 Daar was ook talle klein geselskappe wat op die platteland van dorp tot dorp gereis het. Die koms van gasbeligting en die ontwikkeling van die sirkustent het sirkusvertonings in die aande ook moontlik gemaak. Die eerste sirkusvertoning onder 'n seiltent is in 1826 gehou.[28] Hierna was groot sirkusgeselskappe nie meer aan 'n bepaalde gebou gebonde nie en kon hulle ook op reis gaan.

In 1838 het die ruiter Thomas Taplin Cooke 'n sirkustent uit die VSA na Engeland teruggebring,[29] en rondreisende sirkusse wat vinnig opgeslaan kon word, het in Brittanje gewild geword. Pablo Fanque, die enigste swart sirkuseienaar in Brittanje, het een van die bekendste rondreisende sirkusse van Victoriaanse Engeland bedryf.[30] In Leeds het 'n tydelike gebou wat hy van 'n vertrekkende sirkus oorgeneem het, ineengestort; baie mense is lig beseer en Fanque se vrou is dood.[31][32]

Die laat 19e en vroeë 20e eeu was die era van die sirkusreuse, toe rondreisende sirkusse oral groot belangstelling gewek het wanneer hulle 'n stad binnegekom het.[33] So is Barnum en Bailey se sirkus as "the greatest show on earth" beskryf. Dit is deur Phineas Taylor Barnum (1810-1891) gestig en het onder meer 'n groot verskeidenheid wilde diere en 'n groot groep mense met liggaamsabnormaliteite ingesluit. Teen die 1830's het rondreisende sirkusse ook randvertonings (sideshows) begin saamneem.[4]:9 Ná 'n samesmelting met James Anthony Bailey en James L. Hutchinson se sirkus in 1881[34] en Barnum se dood het die sirkus van 1897 tot 1902 deur Europa getoer. Sy omvang, sy toertegnieke (onder meer die tent en die sirkustrein) en die kombinasie van sirkusnommers, dieretuin en randvertoning het ander sirkuseienaars beïndruk, en Europese sirkusse het die formaat teen die begin van die 20ste eeu oorgeneem.[35] Onder Amerikaanse invloed het die karakter van die sirkus sterk verander.[36] In arenas wat te groot was om spraak maklik te hoor, het die nar se tradisionele komiese dialoog minder belangrik geword, en die ou ruiterkunste is deur groter akrobatiese vertonings van vaardigheid, krag en waagmoed verdring, waarvoor groot getalle kunstenaars en dikwels ingewikkelde en kosbare toerusting nodig was.[5]:391 Barnum se sirkus is in 1919 oorgeneem deur sy grootste mededingers, die Ringling-broers, en daarna was die sirkus bekend as die Ringling Brothers and Barnum and Bailey Circus.

Europese sirkusse het in die tyd tussen die 2 wêreldoorloë groot geldelike probleme begin ondervind en baie van hulle het bankrot gespeel. Mense se idee van vermaak het ook met die koms van televisie begin verander, en ná die Tweede Wêreldoorlog was sirkusse nie meer so gewild nie.[35] Nog 'n faktor wat die moderne sirkus nadelig geraak het, was die opkoms van 'n beweging wat die voorkoming van wreedheid teenoor diere ten doel gehad het; veral sedert die 1960's kry sirkusse toenemend kritiek van diereregte-aktiviste.[33] Dit het baie mense met nuwe oë na die afrigting van wilde diere vir sirkusvertonings laat kyk. Hulle het gemeen dat dit wreed en vernederend vir die diere was om vir sirkustoertjies afgerig te word.

Nuwe sirkus

[wysig | wysig bron]
Cirque du Soleil se Dralion in Wene, 2004.

Sedert die laat 1970's het die sirkus 'n herlewing beleef toe groepe in Australië, Kanada, Frankryk,[37] die weskus van die VSA en die Verenigde Koninkryk met nuwe vorme geëksperimenteer het. Hierdie nuwe sirkus (cirque nouveau) verbind tradisionele sirkuskunste met teatertegnieke om 'n storie of tema oor te dra, gebruik dikwels musiek wat spesiaal vir die produksie gekomponeer word, en toon selde diere. Tot die vroeë voorbeelde behoort Circus Oz, wat in 1977 in Australië uit twee ouer groepe gevorm is.[38] Onder die latere geselskappe tel die Wes-Afrikaanse Circus Baobab (laat 1990's)[39] en Les 7 doigts de la main uit Montreal (2002).[40] Cirque du Soleil, wat in 1984 in Quebec gestig is, is een van die kommersieel suksesvolste geselskappe: in 2009 was sy geskatte jaarlikse inkomste meer as US$810 miljoen,[41] en byna 90 miljoen toeskouers in meer as 200 stede op vyf kontinente het sy produksies gesien.[42]

Samestelling

[wysig | wysig bron]

Aanvanklik is eksotiese diere net in 'n diereversameling (menagerie) uitgestal, wat reeds in die vroeë 18de eeu in Noord-Amerika 'n gewilde vermaak was.[43] Sirkusperde was daarna lank die vernaamste en enigste dierevertoning in die sirkus. Daar is 2 soorte dressuur: die haute école of hoërskool, wat uit die fyn ruiterykuns stam, en die Liberty- of vrye perde, wat of met net 'n akrobaatruiter, of sonder teuels hul passies uitvoer. Hansworse dra gewoonlik verspotte klere en het groot, rooi gegrimeerde neuse en monde. Hansworse val oor hul eie voete, oor mekaar en dikwels oor die ernstige artieste en verbreek die spanning van 'n waagtoertjie deur die gehoor te laat lag.

Die hanswors is dikwels 'n dwerg. Dit is 'n rol wat 'n fyn mensekennis verg omdat so 'n kunstenaar moet weet presies op watter oomblik hy sy gehoor in die regte stemming het. Akrobate vermaak die gehoor deur verstommende toertjies uit te voer. Sommige is talentvolle gimnaste, ander is koorddansers wat die gehoor telkens na hul asems laat snak, en ander lewer weer vertonings om hul liggaamskrag ten toon te stel. Tot die algemeenste nommers behoort akrobatiek, gimnastiek (onder meer tuimeling en trampolien), lugkunste soos trapeze en lugsy, kontorsie, stelteloop en jongleerkuns. Balanskunste soos bordjiedraai, koorddans, slaplyn en die eenwiel word saam as ekwilibristiek gegroepeer.[44] Baie sirkustoertjies is eintlik net oëverblindery.

So berus koorddansers se oënskynlik lewensgevaarlike vertonings op die beginsel dat iets of iemand wat op 'n smal oppervlakte soos 'n koord balanseer, stabieler is wanneer 'n voorwerp (byvoorbeeld 'n ander akrobaat of 'n swaai) daaraan hang. Die afrigting van wilde diere vir sirkustoertjies is ook tot 'n fyn kuns ontwikkel.

Die gewildste diere is waarskynlik die groot katte, soos leeus en tiers, en ook olifante, wat geleer word om te dans en om op hul afrigter te klim sonder om hom te beseer. Hulle laat selfs toe dat 'n jong kind hulle beheer. Isaac Van Amburgh, wat in 1833 'n hok met verskeie groot katte binnegegaan het, word algemeen as die eerste dieretemmer in die Amerikaanse sirkus beskou.[27] Beroemde dieretemmers soos Julius Seeth en Willy Hagenbeck het volgehou dat die geheim van dieredressuur in baie geduld en liefde lê, omdat 'n bang of ongelukkige dier nooit betroubaar is nie.

Die Internasionale Sirkusfees van Monte Carlo, wat sedert 1974 in Monaco gehou word, was die eerste van talle internasionale toekennings vir sirkuskunstenaars.[45]

Sirkusse in Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Die sirkus het reeds besonder vroeg die see oorgesteek en ook sy verskyning in Suid-Afrika kom maak. Daar kan in die Kaapse koerante van November-Desember 1847 gelees word van 'n Italiaanse Sirkus wat die Kapenaars destyds aan die praat gehad het - nog voor die einde van die Groot Trek, in 'n tyd toe die Kaap nog allesbehalwe 'n groot stad was.

Volgens 'n advertensie in De Zuid-Afrikaan is die vertonings gehou op die "werf" van Thomas Sutherland in Buitenkantstraat en het dit om vyfuur die namiddag begin. Van kunsmatige beligting was daar natuurlik nog geen sprake nie en die vertonings moes dus voor donkeraand verby wees.

Perdetoertjies het 'n belangrike plek op die program ingeneem en die Hollandse koerante praat dan ook van die " Italiaanse renperk", die ingeslote ruimte met perde en ruiters. Chinese gimnaste, koordlopers en -dansers en harlekyne was ook op die program. Getemde diere was daar nog nie.

In Oktober 1850 is "Gymnastieken te paard" in Kaapstad aangebied. Hierdie vertonings, wat onder beskerming van die goewerneurspaar, sir Harry en lady Smith, gehou is, het bestaan uit historiese en ander voorstellings te perd. Vele ander het gevolg.

Moderne sirkusse wat nog dikwels gesien kan word is onder andere:

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ circus, Charlton T. Lewis, Charles Short, A Latin Dictionary, op Perseus
  2. ↑ krikos, Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon, op Perseus
  3. ↑ Tertullian, Septimus Florens (1931). De spectaculis (Latin text with English translation). Vertaal deur Terrot Reaveley Glover. Cambridge, Massachusetts: Loeb Classical Library.
  4. 1 2 3 Nickell, Joe (2005). Secrets of the sideshows. Lexington, Ky.: University Press of Kentucky. ISBN 0-8131-7179-2. OCLC 65377460.
  5. 1 2 3 4 5 "Circus". Encyclopædia Britannica. Vol. 6 (11de uitg.). 1911. pp. 390-391.
  6. 1 2 Speaight, George (1980). A History of the Circus. London: Tantivy Press. ISBN 0-4980-2470-9.
  7. ↑ Croft-Cooke, Rupert; Cotes, Peter (1976). Circus: A World History. London: Paul Elek. p. 27. ISBN 978-0-236-40051-5.
  8. ↑ Dagron, Gilbert (2011). L' Hippodrome de Constantinople: Jeux, Peuple et Politique. Paris: Éditions Gallimard. ISBN 978-2-07-013378-9.
  9. ↑ Livius, Ab Urbe condita libri, 1.35.
  10. ↑ "History of the Ludi". Novaroma.org. Besoek op 20 April 2012.
  11. ↑ Coxe, Antony D. Hippisley (1956). "The History of the Circus". Journal of the Royal Society of Arts. 104 (4975): 414-417. ISSN 0035-9114. JSTOR 41364918.
  12. ↑ "Philip Astley". Circopedia. Besoek op 15 Mei 2023.
  13. ↑ Dengler, Dorothy (1949). "Dan Rice, the Circus Clown: As Rochester Knew Him". New York History. 30 (3): 316-327. ISSN 0146-437X. JSTOR 23149965.
  14. ↑ Marius Kwint, "Astley, Philip (1742-1814)", Oxford Dictionary of National Biography, Oxford University Press, 2004; aanlyn uitgawe, Januarie 2008 besoek op 7 Januarie 2014
  15. 1 2 3 "The circus comes to the Circus". BBC News. Besoek op 13 Desember 2014.
  16. ↑ Joe Nickell (2005). "Secrets of the sideshows". p. 8. University Press of Kentucky, 2005
  17. ↑ Stoddart, Helen (2000). Rings of Desire: Circus History and Representation. Manchester: Manchester University Press. pp. 13-15. ISBN 978-0-7190-5234-7.
  18. ↑ Philip Astley (British circus manager), Encyclopædia Britannica.
  19. ↑ Leathers, Victor L. (1959). British Entertainers in France, University of Toronto Press, 1959, p. 29.
  20. ↑ "The First Circus"; Victoria and Albert Museum
  21. ↑ Mr Philip Astley's Introduction to The First Circus in England Geargiveer 8 November 2008 op Wayback Machine. PeoplePlay UK. Besoek op 18 Maart 2007.
  22. ↑ Banham, Martin (1995). The Cambridge Guide to Theatre, Cambridge University Press, 1995, p. 216.
  23. ↑ "Historical Markers". Explore PA History. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Desember 2019. Besoek op 20 April 2012.
  24. ↑ "Person: Ricketts, John Bill". The Circus in America, 1793-1940. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Mei 2012. Besoek op 20 April 2012.
  25. ↑ "PHMC: Historical Markers Program: Ricketts' Circus". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Desember 2007.
  26. ↑ "Circus in America TimeLine: 1801-1824". The Circus in America, 1793-1940. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Maart 2007. Besoek op 20 April 2012.
  27. 1 2 "Introduction". The Circus in America, 1793-1940. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2006. Besoek op 20 April 2012.
  28. ↑ Glenday, Craig (2013). Guinness World Records 2014. Guinness World Records Limited. ISBN 978-1-908843-15-9.
  29. ↑ William L. Slout (1998). Olympians of the Sawdust Circle: A Biographical Dictionary of the Nineteenth Century American Circus. Wildside Press LLC. p. 60. ISBN 978-0-8095-1310-9. Besoek op 9 Junie 2013.
  30. ↑ Griffin, J. "Frost, Thomas (1881), "Circus Life and Circus Celebrities." London: Chatto and Windus". Circushistory.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Desember 2010. Besoek op 9 April 2011.
  31. ↑ Leeds Intelligencer, 4 Maart 1854, p. 5, kol. 3.
  32. ↑ Victoria and Albert Museum (7 Maart 2011). "Victorian Circus". V&A. Besoek op 19 Junie 2011.
  33. 1 2 "What a treat that was - the days when the circus came to Bolton". The Bolton News (in Engels). 7 Desember 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Desember 2019. Besoek op 15 Mei 2025.
  34. ↑ "A History Of Ringling Bros. Circus, Soon To Close Forever - CBS Baltimore". www.cbsnews.com (in American English). 17 Mei 2017. Besoek op 15 Mei 2025.
  35. 1 2 "Let's Go to The Circus!". JD's Realty & Auction (in American English). 16 Augustus 2022. Besoek op 15 Mei 2025.
  36. ↑ "History of the Circus | International Circus Hall of Fame" (in American English). 9 November 2016. Besoek op 15 Mei 2025.
  37. ↑ « Historique de la célèbre crise », Jean-Pierre Thiollet, École ouverte, n°85, Februarie 1982, http://doc.cnac.fr/ListRecord.htm?list=link&xRecord=19102592157919207749
  38. ↑ St Leon, Mark (2011). Circus! The Australian Story. Melbourne Book. pp. 239-248. ISBN 978-1-877096-50-1.
  39. ↑ "Circus Baobab". Circus Baobab. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Maart 2025. Besoek op 20 April 2012.
  40. ↑ "The 7 Fingers". Les7doigtsdelamain.com. Besoek op 20 April 2012.
  41. ↑ Collins, Glenn (28 April 2009). "Run Away to the Circus? No need. It's Staying Here". The New York Times. Besoek op 30 September 2009.
  42. ↑ "About Cirque du Soleil". Cirque du Soleil. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 September 2009. Besoek op 30 September 2009.
  43. ↑ "The history of circus in the US, HistoryMagazine". History-magazine.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2012. Besoek op 20 April 2012.
  44. ↑ Malcolm (19 Maart 2025). "What Is A Circus? Definition, History, Acts, & Facts". Gandeys Circus (in Britse Engels). Besoek op 24 September 2026.
  45. ↑ "International Circus Festival of Monte-Carlo". Montecarlofestival.mc. 15 April 2012. Besoek op 20 April 2012.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]