Gaan na inhoud

Handves van regte

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Verklaring van die Regte van die Mens en die Burger van 1789 is 'n grondliggende dokument van die Franse Rewolusie en van die geskiedenis van menseregte.
Konsep van die Amerikaanse handves van regte, ook uit 1789.

'n Handves van regte, ook 'n verklaring van regte genoem, is 'n lys van die belangrikste regte van die burgers van 'n land. Die doel daarvan is om dié regte teen skending deur openbare amptenare en private burgers te beskerm.[1]

'n Handves van regte kan verskans of onverskans wees. 'n Verskanste handves van regte kan nie deur 'n land se wetgewer langs die gewone weg gewysig of herroep word nie, maar vereis 'n gekwalifiseerde meerderheid of 'n referendum. Dikwels is dit deel van 'n land se grondwet en dan onderworpe aan die besondere prosedures wat vir grondwetwysigings geld.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die geskiedenis van oktrooie wat bepaalde regte aan bepaalde groepe toeken, strek tot in die Middeleeue en vroeër terug. 'n Voorbeeld is die Magna Carta, 'n Engelse oktrooi waaroor die koning en sy baronne in 1215 ooreengekom het.[2] In die vroeëmoderne tyd het die belangstelling in die Magna Carta herleef.[3][4] Sir Edward Coke, 'n regter van die Engelse gemenereg, het die gedagte van regte wat op burgerskap berus laat herleef deur te betoog dat Engelse mense sulke regte histories geniet het. Die Petition of Right van 1628, die Habeas Corpus Act van 1679 en die Bill of Rights van 1689, die Engelse handves van regte, het sekere regte in wetgewing vasgelê.

In die Dertien Kolonies was die Engelse Bill of Rights een van die invloede op die Virginia-verklaring van Regte van 1776, wat op sy beurt later daardie jaar die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring beïnvloed het.[5][6] Nadat die Grondwet van die Verenigde State in 1789 aangeneem is, is die Amerikaanse handves van regte in 1791 bekragtig. Die Amerikaanse grondwet en handves van regte is deur die Britse grondwetlike geskiedenis beïnvloed.[7][8][9]

Die Verklaring van die Regte van die Mens en die Burger, wat deur die Verligting geïnspireer is, het die universaliteit van regte verkondig.[10] Dit is in 1789, gedurende die Franse Rewolusie, deur Frankryk se Nasionale Grondwetgewende Vergadering aangeneem.

In die 20ste eeu het verskillende groepe by die opstel van die Universele Verklaring van Menseregte, die Europese Konvensie oor Menseregte en die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind op dié vroeëre dokumente gesteun.[11]

Uitsonderings in Westerse demokrasieë

[wysig | wysig bron]

Die grondwet van die Verenigde Koninkryk is steeds ongekodifiseer.[2] Die Bill of Rights van 1689 maak egter deel van die Britse reg uit, en die Human Rights Act 1998 neem die regte van die Europese Konvensie oor Menseregte in die Britse reg op. In die 21ste eeu was daar voorstelle vir 'n Britse handves van regte, en die Britse parlement het 'n Bill of Rights Bill bespreek, maar dit is nie tot wet verhef nie.

Van die gemeneregtelike lande is Australië die enigste wat sy burgers nie met 'n grondwetlike of 'n federale wetgewende handves van regte beskerm nie, hoewel die debat in baie van die Australiese state voortduur.[12][13] Die federale prokureur-generaal Lionel Murphy het in 1973 'n menseregtewetsontwerp in die parlement ingedien, wat nooit aangeneem is nie.[14] Senator Gareth Evans het in 1984 'n handves van regte opgestel wat nooit in die parlement ingedien is nie, en senator Lionel Bowen het in 1985 een ingedien wat die Huis van Afgevaardigdes aangeneem het maar wat in die Senaat gesneuwel het.[14] Die voormalige Australiese premier John Howard het hom teen 'n handves van regte vir Australië verset op grond daarvan dat dit mag van verkose politici na onverkose regters en amptenare sou oordra.[15][16] Victoria, Queensland en die Australiese Hoofstedelike Gebied is die enigste state en gebiede met 'n menseregtewet.[17][18][19] Die legaliteitsbeginsel van die Australiese regstelsel streef egter daarna dat wetgewing so uitgelê word dat dit nie met basiese menseregte inmeng nie, tensy die wetgewing dit uitdruklik wil doen.[20]

Lys van handveste van regte

[wysig | wysig bron]
Die Bill of Rights van 1689 is 'n wet van die Engelse parlement wat sekere regte toeken.

Algemeen

[wysig | wysig bron]
Titel Jaar van inwerkingtreding Gebied Aantekeninge
Handves van Vryhede 1100 Engeland Erf- en huweliksregte, amnestie en omgewingsbeskerming
Magna Carta 1215 Engeland Regte vir baronne
Groot Handves van Ierland 1216 Ierland Regte vir baronne
Goue Bul van 1222 1222 Hongarye Regte vir adellikes
Statuut van Kalisz 1264 Pole Regte van Joodse inwoners
Handves van Kortenberg 1312 Brabant Regte vir alle burgers, "ryk en arm"
Dušan se Wetboek 1349 Serwië
Twaalf Artikels 1525 Swabiese Bond
Pacta conventa 1573 Pole-Litaue
Henriciaanse Artikels 1573 Pole-Litaue
Petition of Right 1628 Engeland
  • Declaration of Right, 1689
  • Bill of Rights 1689
  • Claim of Right Act 1689
1689 Engeland, Skotland Dit het vir al die Britse kolonies van die tyd gegeld en is later in die wette van dié kolonies wat lande geword het, verskans, in Australië byvoorbeeld met die Colonial Laws Validity Act 1865 en herbekragtig deur die Statute of Westminster 1931
Virginia-verklaring van Regte 1776 Verenigde State: Virginia Junie 1776, aanhef tot die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring van Julie 1776
Hoofstuk 1 van die Grondwet van Pennsilvanië 1776 Verenigde State: Pennsilvanië Julie 1776[21]
Verklaring van die Regte van die Mens en die Burger 1789 Frankryk
Handves van regte van die Grondwet van die Verenigde State 1791 Verenigde State In 1789 voltooi, in 1791 bekragtig
Verklaring van die Regte van die Volk 1811 Venezuela
Artikel I van die Grondwet van Connecticut 1818 Verenigde State: Connecticut
Grondwet van Griekeland 1822 Griekeland
Hatt-ı Hümayun 1856 Ottomaanse Ryk
Artikel I van die Grondwet van Texas 1875 Verenigde State: Texas
Grondregte en vryhede in Finland 1919 Finland
Geïmpliseerde handves van regte, 'n leerstuk van die Kanadese staatsreg 1938 Kanada Die handves van regte wat die Constitution Act, 1867 impliseer, in 1938 vir die eerste keer in Reference Re Alberta Statutes geïdentifiseer
Artikels 13-28 van die Grondwet van Italië 1947 Italië
Saskatchewan Bill of Rights 1947 Kanada: Saskatchewan Die eerste handves van regte wat sedert die Engelse Bill of Rights in die Britse Ryk en Statebond aangeneem is
Universele Verklaring van Menseregte 1948 Verenigde Nasies
Grondregte en -pligte van burgers in die Volksrepubliek China 1949 China
Grondregte van Indiese burgers 1950 Indië
Europese Konvensie oor Menseregte 1953 Raad van Europa In 1950 opgestel
Deel II van die Grondwet van Maleisië 1957 Maleisië
Canadian Bill of Rights 1960 Kanada
Alberta Bill of Rights 1972 Kanada: Alberta
Deel I van die Grondwet van Portugal 1976 Portugal
Internasionale Handves van Menseregte 1976 Verenigde Nasies
Charte des droits et libertés de la personne 1976 Kanada: Quebec
Canadian Charter of Rights and Freedoms 1982 Kanada
Artikels III en XIII van die Grondwet van die Filippyne 1987 Filippyne Artikel III reël die pligte en verantwoordelikhede van die regering teenoor die regte van burgers, terwyl artikel XIII bepaald oor menseregte en maatskaplike geregtigheid handel
Artikel 5 van die Grondwet van Brasilië 1988 Brasilië
New Zealand Bill of Rights Act 1990 Nieu-Seeland
Handves van Grondregte en Basiese Vryhede van Tsjeggië 1991 Tsjeggië
Hong Kong Bill of Rights Ordinance 1991 Hongkong
Hoofstuk 2 van die Grondwet van Suid-Afrika 1996 Suid-Afrika Getiteld "Handves van Regte"
Human Rights Act 1998 1998 Verenigde Koninkryk
Human Rights Act 2004 2004 Australië: Australiese Hoofstedelike Gebied
Handves van Grondregte van die Europese Unie 2005 Europese Unie
Charter of Human Rights and Responsibilities Act 2006 2006 Australië: Victoria
Hoofstuk vier van die Grondwet van Zimbabwe 2013 Zimbabwe
Human Rights Act 2019 2019 Australië: Queensland

Dokumente op 'n bepaalde groep gerig

[wysig | wysig bron]

Die term word ook vir verklarings gebruik wat die regte van 'n bepaalde groep eerder as dié van burgers in die algemeen uiteensit. Voorbeelde daarvan is die Amerikaanse Consumer Bill of Rights vir verbruikers, die Taxpayer Bill of Rights vir belastingbetalers, die G.I. Bill of Rights vir oudsoldate, die Library Bill of Rights van die American Library Association en die Donor's Bill of Rights vir skenkers.[22]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ Sellers, Mortimer N. S. (2013). "Universal Human Rights Law in the United States". In Haeck, Yves; Brems, Eva (reds.). Human Rights and Civil Liberties in the 21st Century. Ius Gentium: Comparative Perspectives on Law and Justice. Vol. 30. Dordrecht: Springer Netherlands. pp. 15-35. doi:10.1007/978-94-007-7599-2_2. ISBN 978-94-007-7598-5.
  2. 1 2 Rau, Zbigniew; Żurawski vel Grajewski, Przemysław; Tracz-Tryniecki, Marek, reds. (2016). Magna Carta: A Central European Perspective of Our Common Heritage of Freedom. Rutledge. p. xvi. ISBN 978-1317278597. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Oktober 2023. Britain in its history proposed many pioneering documents – not only Magna Carta, 1215 but those such as the Provisions of Oxford 1258, the Petition of Right 1628, the Bill of Rights 1689, and the Claim of Right 1689
  3. ↑ "From legal document to public myth: Magna Carta in the 17th century". The British Library. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Oktober 2017. Besoek op 16 Oktober 2017.
  4. ↑ "Magna Carta: Magna Carta in the 17th Century". The Society of Antiquaries of London. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 September 2018. Besoek op 16 Oktober 2017.
  5. ↑ "Constitutionalism: America & Beyond". Bureau of International Information Programs (IIP), U.S. Department of State. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Oktober 2014. Besoek op 30 Oktober 2014.
  6. ↑ Maier, Pauline (1997). American Scripture: Making the Declaration of Independence. New York: Knopf. pp. 126-128. ISBN 0679454926.
  7. ↑ Schwartz, Bernard (1992). The Great Rights of Mankind: A History of the American Bill of Rights. Rowman & Littlefield. pp. 1-2. ISBN 9780945612285. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2023.
  8. ↑ Conley, Patrick T. (1992). The Bill of Rights and the States: The Colonial and Revolutionary Origins of American Liberties. Rowman & Littlefield. pp. 13-15. ISBN 9780945612292. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2023.
  9. ↑ Montoya, Maria; Belmonte, Laura A.; Guarneri, Carl J.; Hackel, Steven; Hartigan-O'Connor, Ellen (2016). Global Americans: A History of the United States. Cengage Learning. p. 116. ISBN 9780618833108. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Oktober 2023.
  10. ↑ Liberty, Equality, Fraternity: Exploring the French Revolution. Penn State Press. 2001. ISBN 0271040130. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Oktober 2023.
  11. ↑ Hugh Starkey. "Magna Carta and Human rights legislation". British Library. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 November 2016. Besoek op 22 November 2016.
  12. ↑ Suter, Keith (18 Julie 2008). "Does Australia need a Bill of Rights?". Wesley Mission. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Junie 2009.
  13. ↑ Anderson, Deb (21 September 2010). "Does Australia need a bill of rights?". The Age. Melbourne. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Augustus 2011.
  14. 1 2 "Part Four: A Human Rights Act?" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 13 Februarie 2014. Besoek op 26 Oktober 2014.
  15. ↑ "Howard opposes Bill of Rights". PerthNow. The Sunday Times. 27 Augustus 2009. Besoek op 14 September 2009.{{Verwys nuus}}: VS1-onderhoud: url-status (link)
  16. ↑ Howard, John (27 Augustus 2009). "2009 Menzies Lecture by John Howard (full text)". The Australian. News Limited. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Augustus 2009. Besoek op 14 September 2009.
  17. ↑ Charter of Human Rights and Responsibilities Act 2006 (Victoria).
  18. ↑ Human Rights Act 2004 (Australiese Hoofstedelike Gebied).
  19. ↑ "Human Rights Act 2019". legislation.qld.gov.au. Queensland Government. 7 Maart 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 April 2019. Besoek op 4 April 2019.
  20. ↑ Potter v Minahan (1908) 7 CLR 277.
  21. ↑ "Constitution of the Commonwealth of Pennsylvania - 1776". Duquesne University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Oktober 2016. Besoek op 29 Desember 2016.
  22. ↑ "The Donors Bill of Rights". Association of Fundraising Professionals (AFP). 21 Desember 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Desember 2022. Besoek op 22 Desember 2022.